Lees Psalm 136:1-9.
Loof die Here, want Hy is goed. Aan sy liefde is daar geen einde nie (v 1).
Here, sonder einde is ons lof aan U!
U het ons uit die staanspoor onder u vlerke geneem:
U het vir U ’n aarde gemaak –
en ons daarop laat woon.
U het ’n hemel as u tuiste geskep –
en ons daarvoor bestem.
U het ligte gemaak om oor duisternis te heers –
en óns word deur hulle bedien.
Só gee U van die begin af ’n stuk ewigheid weg
aan tydelike skepsels soos ons: ondankbare
ontvangers van Goddelike gunste en gawes.
U hou egter nooit op om ons só te begenadig nie.
Lewenslank dra ons u vernuftige lig in ons liggaam;
baai ons in die liefdeskynsel wat van U af kom.
Maar, Here, dit is die waters wat u spesiale geskenk
aan my is. ’n See vol woelende goedheid. Altyd anders.
’n Uitgestrekte teenstrydigheid: rustelose bron van vrede;
gryper van lewe; ’n gesoute gewer van troos.
Daarom kan U begryp dat ons voortdurend
op soek is na geskikte maniere om U te dank.
Ons probeer so al wat ons kan om die omvattende
lof wat U toekom, na behore uit te druk –
oorspronklike segswyses, kreatiewe wysies.
Intussen bly my dank aan U ’n daaglikse refrein.
Want bo alles is my lewe ’n voorspelbare stuk voorspoed;
al die trane en somtyds aaklige ontnugtering ten spyt.
Maar hoekom sal ek kla?
Want my voete trap getroos op u vaste aarde
en ek strek my arms vol hoop na u hemel uit.
Rondom my gloei die vredevolle lig.
En iewers,
iéwers wag die see …
Amen.
Barend Vos