Lees Psalm 136:10-20.
Hy het sy volk deur die woestyn laat trek. Aan sy liefde is daar geen einde nie (v 16).
Die ou lofliedere wat die verhale van u redding vertel,
Here, inspireer vandag nog almal wat dit saamsing.
Ja, ons voeg graag ons stem en ons hart by elke lied
wat u bewonderaars deur die eeue heen vir U bring.
Om eerlik te wees, Here: Ons sukkel wel soms om die
destydse verband te begryp; met die sentiment daarin
is ons dit volkome eens. Ons wonder spesifiek oor die
liedere uit Egipte – oor die steeks farao; dié se oudste
seun. En, ag, Here, die stomme diere se eersgeborenes.
Ons loflied stol dan momenteel, soos ’n onverwagte knop
in die keel – en dit kos ’n reël of twee om dit af te sluk.
Maar dan … síng ons weer, want u woestynwonders laat
weinig twyfel oor wie hier voorgegaan het, seë gekloof
en vreemde vorste vernietig het. Ja, oral is ons God!
En noudat ons sing, Here, word dit so duidelik soos die
lig van die wolkkolom: Ons ís hier ’n bevryder aan ’t loof.
U het u kinders se swaarkry gesien
en hul jammerklag gehoor.
U het opgestaan vir hul reg,
beslissend ingegryp,
konings trompop geloop.
Bevryder, heet U. Verlosser.
Leer ons dan, Here, om nou,
ontelbare geslagte later,
steeds die verlossing te vier.
Dat ons in ons nadenke
nadruklik klem sal lê
op U wat u kinders bevry.
Leer ons om dit telkens te omhels
omdat U dit steeds aan u kinders doen.
Sodat ons sonder skroom soos bevrydes sal optree.
En dan met oortuiging ook ander só laat leef.
Amen.
Barend Vos