Lees Psalm 136:21-26.
Hy het hulle land as geskenk gegee, aan sy liefde is daar geen einde nie (v 21).
Here, het U die mens so geskape
dat sy identiteit van grond afhang?
Is U regtig die oorspronklike argitek van “bloed en bodem”?
Ou Israel se lofliedere wys dat hulle geen twyfel daaroor
het nie. En omtrent elke “volk” ná (en straks voor) hulle
word eers voltooi met “en vaderland”. Ons ís omdat ons hét.
’n Land. Grond.
Besit. Baas.
Al dié sjibbolette maak my deurmekaar, Here.
Want was dít dan nie die aanleiding tot elke
enkele oorlog in menseheugenis nie? Tot die
laaste druppel bloed is daar om grondgebied
geveg. Die wenner het die grond afgevat en
nuut bewoon en dit só bewerk dat hulle wat
verloor het darem in agterplase kon tuiskom.
Dié wat nie doodgemaak of oor die verste grens verdryf
is nie, het slawe geword. Bywoners op die plek wat hulle
eens hul eie genoem het. Vreemdelinge. Voorbestem
tot verdere vernedering en steeds dieper verknegting.
Verontreg; verontwaardig. Opstandig.
Ag, Here, wat maak ons van al die vaderlandse geskiedenisse
wat ons inspireer én wat dreig om te verteer? Wat pla én aankla?
Hoe presies verdedig ek dié besitting?
Hoe verduidelik ek die storie van my lewe?
Waar vind ek die vader van hierdie land?
Ek vra U omdat ék nie weet nie, Vader.
En omdat U nog altyd die vreemdelinge
en bywoners vir u rekening geneem het.
Van die vroegste eeu af het U mense
uit slawehuise bevry; U het hulle versorg.
Ek vra U omdat U landwyd geëer word
as die Gewer van groot gawes.
’n Wonderwerker.
Amen.
Barend Vos