Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

’n Banneling se lied

Lees Psalm 137:1-4.

Hoe kan ons die lied van die Here sing in ’n vreemde land? (v 4).

Ag, Here, vreemde lande het tog so ’n bekoring!
Reis word maklik ’n verslawing en stempels
in jou paspoort ’n gesogte, heerlike optelsom.
Verhale uit die vreemde was nog altyd ’n vreugde;
“eksoties” ’n lekker cliché. Ja, ons praat graag
daaroor: ’n ander kultuur, interessante gewoontes.
Vreemde geite wat skok. Of ’n heimlike giggel ontlok.

Maar U weet dat daar niks vroliks aan gedwonge
verhuising is nie; uitlanders se pyn is diep gesetel.
Én op die oppervlak: Ballinge sing nie ballades nie.

Sang, liedere, laat trane loskom wat liefs kon gebly het.
Of wat vir spesiale verlangdae gespaar kon word.
Musiek is mos dié godsgawe, Here, wat onder ’n dik
vel inkruip, deur harde harte dring en onaantasbares
vasvat. Ja, hoor en sien vergaan voor die aanslag wat
ou-ou liedjies van lewenswel en -wee daarop maak.

Vreemdelingskap is mos nie vir sissies nie
en siembambas nie net vir mammas-se-kindjies nie.
Lofliedere kom dan noodgedwonge in ’n mineurtoon
en slaapliedjies laat jou juis wakker lê.
Destyds se sniksang het eensklaps nuwe sin, juis noudat
verlange op ver verlate vlaktes sy lê gaan kry het;
knap langs die berge nog so blou.
Nostalgie is ’n groot gelykmaker.

Daarom, dink ek, hang daar van altyd af
soveel liere aan vreemde bome, Here.
En word daar riviere vol gehuil
wanneer lank vergane liedere
uit die kelders opgediep
en sommer saamgesing word.
Wanneer kindertye skielik
grootmensgeselskap word
en herinneringe loodswaar.
En ’n kitaar my kruis.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.