Lees Psalm 137:5-6.
Mag my tong aan my verhemelte vaskleef as ek aan jou nie dink nie, as Jerusalem nie my grootste vreugde bly nie (v 6).
Haai, Here, dat ’n mens so maklik verlei word
om te vergeet! Om wég te dink van alles wat
seermaak of seergemaak het – dit is seker maar ’n
verdedigingsmeganisme. ’n Buffer teen bitterheid.
Ja, Here, onthou is ’n seer woord.
Dalk dié dat “ontruk” die werkwoord is
waar vergetelheid ter sprake kom
en nugter menings jou tot “regruk” maan
as jy jou in jou slegste herinneringe vergeet.
Is daar ’n onthou wat nié kwets nie, Here?
Al is dit dan net die pynlike wete van tyd wat verloop het?
Uitgeloop het?
Van goeie mense wat nie meer is
wat hulle destyds vir jou was nie?
As hulle intussen omgedraai en weggeloop het?
En ’n eens geliefde plek wat vergaan het;
woes en leeg geword het?
Ek vermoed dat ek iéts verstaan van ballinge se verwoede
geveg om liefs te vergeet. Van hul herhaalde, uitgesproke
voorneme om dit tot elke prys – dalk ook teen hul
beterwete – reg te kry. Dalk wil hulle die ou bande
verbreek én die kettings wat hulle steeds aan die verlede
– sy tyd, plekke en dalk veral sy mense – bind.
Hulle wíl nie weet dat dit nog aan hulle ook behoort nie.
En beslis nie aan hul kinders en dié se kroos nie.
O Here, maar ek ken ook die vergeefsheid van dié stryd.
Van bloed wat kruip waar dit nie kan loop nie,
en ’n roepstem wat nie ’n nee aanvaar nie.
Vergeet verwar ons mos, Here.
Dit sluit ons opnuut toe
en vonnis ons
tot die hardepad van spoorloosheid.
Amen.
Barend Vos