Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Die begin en die einde

Lees Psalm 137:7-9.

Dat jy verwoes sal word, Babel, is seker. Gelukkig is die man wat jou terugbetaal vir wat jy ons aangedoen het! (v 8).

Ek onthou alte goed, Here, dat toe ons kinders was
ons mekaar só gedreig het: “Wag maar tot my pa huis
toe kom – dán sal jy sien!” Hý was die einde van elke
argument en die begin van alle gerusstelling. Sy gaan
en kom was die alfa en die omega van ons klein bestaan.

Ons sou hom herinner aan sy beloftes en hom altyd
op sy woord glo. Partykeer sou ons op sy skoot
klim en hom iets vertrouliks meedeel; dalk verklik
en sê: “Pappa onthou mos wat húlle gedoen het …?”

Verontregting het altyd ’n geldige argument:
Niemand het die reg om iemand anders te vertrap nie.
En almal kan maar weet hoe lyk ’n vader se wraak …

Só glo u kinders deur die eeue heen van U, o Heer.
En troos hulle aan U wat beslissend sal ingryp
en dié wat hulle kwaad aandoen, sal laat betaal.
Hoe dan anders?
U is tog die Een wat die saak met ons begin het,
en belowe het dat U dit self sal deursien
en dit tot ’n vredevolle voleinding sal bring.
Van A tot Z is U ons versorger.
Ons ken U as ons eerste en laaste toevlug.

Daarom wil ons U vra om almal te onthou
wat teen ons oortree het –
die grypers, die brekers, die slaners.
Gryp U hulle!
Breek, soos hulle gebreek het!
Slaan hulle met alles wat U het!

Hoor tog, Vader, wat ons in u oor sal fluister
en troos ons dan, soos altyd,
van begin tot einde,
met u sagte aandag.

Ons wag op U.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.