Lees Psalm 138.
Die Here sal vir my alles goed laat afloop. Aan u liefde, Here, is daar geen einde nie. Moet tog nie die werk van u hande laat vaar nie (v 8).
Dit duur nogal lank voordat ons weer by ons sinne kom.
Ons leer stadig, Here!
Ons loop dae, jare, geslagte lank met ’n witbrood
onder die arm en kla, kla, kla
oor hoe swaar ons kry; hoe sleg dit gaan.
Hoe ánder die vrug van óns arbeid
sonder skroom of betaal gryp en geniet.
Óns geskiedenis is altyd wet én evangelie.
In plaas daarvan dat ons ons kinders leer om U te loof.
En hulle met blye galme
voorgaan in dankbetoning vir u liefde
so oneindig en die goedheid Gods hier nooit volprese.
O, dat ons hulle tydig en ontydig sal voorsing
oor ’n allerhoogste Hemelvader wat ons hande neem,
ons één gemaak en op vaste fondamente laat woon het.
Ag, Vader, gee tog ook dat ons hulle sal leer
om klein te wees voor U.
Én klein voor mekaar.
Dat U hoogmoed teenstaan en aan nederiges krag gee.
Dat U die waansinnigheid van grootmanspeletjies
van ver af sien aankom en in u mou daaroor lag.
Dat U u kinders daarteen waarsku –
en dan voortgaan met u groot werk onder kleintjies.
Maak ons getrou in ons daaglikse arbeid,
en trots op wat ons so goed in u krag vermag.
Maar leer ons veral ook, Here,
om nie ’n afgod te maak
van die werk van ons hande nie.
Om U eerder te loof
vir ú kunstige handewerk:
óns.
Amen.
Barend Vos