Lees Psalm 139:3.
Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend (v 3).
Here, ek sing van kleins af liedjies
en sê daardie versies op
oor U wat geken moet word in ál ons weë.
Dan sal U ons paaie gelyk maak.
Ek is deesdae nie meer so seker
van die liedjies óf die versies nie.
U ken my weë. Almal. En oral heen.
En ek het nie ’n liedjie of ’n versie nodig om dit vir my te sê nie;
ek weet dit. Want U keer my voor. U lê hindernisse op my roete
en laat stuit my voor afgronde waar daar gister nog niks was nie.
U doen alles om my reisplanne op ’n reguit paadjie te laat verloop.
Ag, Here, en omdat U my ken, weet U van my geneigdheid
om te loop waar ék wil. Om dit op plekke te gaan waag
waar ek nie hoort nie en waar ek dit op die lange duur
nooit sal oorleef nie. Om my op ’n speelveld te begewe
waar nie ek of enigeen van u kinders tuis hoort nie.
Ja, so ken U my, en ál my wilde weë …
Here, nou is daar goeie mense wat sê
U het vanselfsprekend my paaie bepaal.
Vooraf uitgemeet en afgepen. Gekaart.
Dat ek geen tree kán gee wat nie eers deur U
oorweeg en uiteindelik goedgekeur is nie.
Ek weet darem nie, Here …
Is U ook verantwoordelik vir my ontsporings?
Was dit dan telkens u skuld dat ek die pad byster
geraak het? En die kluts kwyt?
Ek kan dit geen oomblik glo nie.
U is ’n grote God; U wys nie dwaalweë aan nie.
U is altyd ons enigste uitweg.
Of hoe, Here?
Amen.
Barend Vos