Lees Psalm 139:5-6.
U omsluit my van alle kante, U neem my in besit (v 5).
Here, daar is mos mense wat benoud word
as ander te naby aan hulle kom.
Hulle kry half engtevrees;
jy bemerk hul angstigheid as jy hul persoonlike ruimte betree.
Moenie sommer aan hulle vat
of goedsmoeds drukkies uitdeel nie!
Ek wonder soms wat hulle dink en hoe hulle daarop reageer
dat daar ’n God is wat ook hulle, allesomvattend, omsluit.
Wat hulle vas en stewig in sy hande hou.
Maak ook dít hulle benoud?
Deins hulle ook vir U terug?
Daar is seker wetenskaplike name hiervoor, Here;
beskrywings uit die psigopatologie, dalk.
Maar wat sê dit alles van mý?
Van die afkeer wat ék het van die inperking
deur iemand wat ek nie eens kan sien nie
en wie se aanraking ek my metafories moet verbeel?
Op wie se woord ek my moet verlaat om die hande
wat so styf rondom my span, te voel?
Is daar ’n teologiese beskrywing hiervoor?
Is dít dalk hoe “ongeloof” is? Om nie te wil glo dat daar ’n God
kan wees wat so naby aan jou lyf kom nie? Teenaan?
Sommer net vir vát?
Ag, Here, ek verstaan niks hiervan nie; ek begryp myself nie.
Soms eis ek dat U my dra; altyd verset ek my teen u greep.
Dalk sal ’n sielkundige hierdie teenstrydigheid verstaan,
of ’n handboek my en my soort haarfyn beskryf.
Hopelik weet U dat U my nie alleen durf los nie.
Ek is steeds ’n kind wat op die treinspoor speel
en ’n rooiwarm stoofplaat onweerstaanbaar vind.
Ek trek graag aan ’n leeu se baard –
en skop en skree as U dan aan my ruk en hard met my praat.
Klou styf vas aan my, Here!
Amen.
Barend Vos