Lees Psalm 139:7-12.
Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom? (v 7).
Here, U ken my: Ek is ’n kampioenatleet.
Langafstand; ek hardloop soos die wind
ver van U af weg.
U weet alles van my af: Ek is ’n gesoute vlugteling.
Ek steek grense oor soos niks; ’n bobaasontsnapper
uit u greep.
U sien dwarsdeur my: Ek het mos die hemel gekies
as dié alibi wat U nie sou uitpluis nie; vroom gedrag
om U te bluf.
U ken elke desperate plan: Ek het eenkeer gedink dood
is verkieslik bo die lewe se deurdringende oë; amper te laat
onthou ek u ewige beloftes.
U is volledig ingelig oor my: Ek kry mos sommer ’n koers
in my kop en vat die pad. Versnel gaandeweg,
huppelend die afdraand af.
U ken my sit en my opstaan: Ek koester allerlei moontlikhede
en troetel sulke lawwe idees dat almal die kop skud
oor my gekke vlugplanne.
U sien hoe ek myself bejammer: Ek vra: “Donker, steek my weg!
Nag, vou my toe!” Álles maar net my oordramatiese manier
om u hand te ontglip.
Ag, Here, terwyl U my nou oop en bloot voor U het;
my weeg en minder as veergewig bevind: Keer my tog eendag
voor en sê my waarom ek dan so graag van U af wil wegkom.
Is dit vrees? Skuldgevoelens? Misplaaste onafhanklikheid?
Is dit alles bloot ’n poging om my kleintydse naïwiteit te ontken?
’n Verbete strewe om by ’n siniese wêreld in te pas
en tussen skeptici tereg te kom?
Vat my aan die skouers en vertel my, Here!
Moet my dan net nie weer laat gaan nie.
Amen.
Barend Vos