Lees Psalm 139:17-18.
Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! (v 17).
Haai, Here, dink U regtig ook aan my?
Aan mý?
Ek is tog veerlig; dons. Willoos as die wind opsteek.
Sonder ’n greintjie gewigtigheid.
Miswolkie op ’n vlugtige besoek.
U het ’n matelose hoeveelheid dinge om aan te dink.
U gedagtes stroom soos ’n alleroorvloedige
fontein van goedheid oor u ganse skepping.
U denke verydel bose planne. Dit buig onvermydelikhede om.
Dit dwing onstuitbares tot stilstand en bring aan vasgelooptes hoop.
Dit gryp diep in en slag die kwaad meedoënloos uit.
Dit beplan oorhoofs én gedetailleerd. Dit droom groot, ver en wyd.
Dit sluit klaarblyklik ook vir mý in:
korreltjie niks.
Hoe meet ’n mens u omvangryke sorg … as ons
van tiendeberekening ’n wetenskap gemaak het?
Hoe bepaal ’n mens die diepte van u deernis … as ons
van ander se skuld ’n maklike optelsom gemaak het
en van ons vergifnis ’n ontwykingsmaneuver?
Hoe weeg ’n mens u almag teen u liefde op
en hoe word Goddelike goedheid bepaal … as ons
haarklowery tot ’n teologie ontwikkel het?
Ons gedagtes is goddank nie u gedagtes nie.
U denke verskil hemelsbreed van ons s’n.
Terwyl myne op die geringste twyfel stuit,
sonder meer opbreek en pateties verstrooi lê,
klief u gedagtes berge oop. Dit lê seë droog,
dolwe die aardkors om en gom die flenters
van ’n mensehart asof oornag weer saam.
En so sal ek in my gebrokenheid U heelhartig loof.
God, Gans Andere.
Amen.
Barend Vos