Lees Psalm 139:23-24.
Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad! (v 24).
My Here,
U weet hoe kleinserig ek is.
Hoe liggeraak; hoe gesteld
op my naam – my beeld na buite.
En daarom is dit vir my swaar
om dit vir U te vra;
stuit dit my teen my trotse bors.
Maar hier kom dit nou:
Kyk my asseblief deur, Here.
Kyk dwarsdeur my,
omdat U kán.
Hou veral u oë op my voeteval
en beoordeel streng die spoor wat ek laat.
Spreek U dan uit oor die stand van my reis
en sorg dat ek op die regte tyd my koers aanpas.
En as dit vir U lyk of ’n blote wysiging nie genoeg sal wees nie,
oortuig my daarvan dat ’n heel ander pad vir my aangewese is.
Ag, Here, en help my om gou genoeg op u aanwysings te reageer.
En as ek huiwer om drastiese nuwe stappe te doen,
stoot my uit die pad.
Wees ferm met my, Here; U ken my.
En moenie daarmee ophou voordat U nie tevrede is nie.
Moenie my goeie voornemens glo nie.
Die ironie van dit alles, Here, is dat die nuwe weg
waarop U my asseblief tog moet plaas, eintlik maar die ou pad is.
U moet my bloot terugneem na waar ek oorspronklik vandaan kom.
Ek is redelik oortuig daarvan dat ek uit u gebaande weë getree
en sedertdien argeloos voortgehuppel het op ’n pad
wat sekerlik in verdriet sal uitmond.
Keer my nou voor, Here!
Neem my reisplanne gevange.
Verlam my voete.
Stuit my.
Amen.
Barend Vos