Lees Psalm 140:1-6.
Red my van mense wat sleg is, Here, beskerm my teen mense wat geweld pleeg (v 2).
Here, ek het op ’n wrede manier uitgevind
dat die verkeerde pad – die een waarop ek
my so gereeld bevind en waarvan U my
aanhoudend moet red – dat dié pad ’n óú
hoofweg van die goddeloses is. Kyk dan net
die wrakke wat hier rondlê – oud en geroes.
Hulle lê al lank so. Slagoffers van boosheid.
Tydens ’n verposing op dié reis, by ’n stilhouplek
– het ek dit later uitgepluis – waar daar kos
en stories uitgeruil word, dáár het die goddelose
giftonge gepik. By dié rusplekke slaan hulle toe.
En ons, niksvermoedend, goedgelowig, vind eers
veel later uit hoe hierdie geslepenheid ons
verlam het. Ons verloor ons asem en moed;
laat alle hoop vaar en gee uiteindelik boedel oor.
Ek is nie die giftige goddeloses se gelyke nie, Here.
Ek span nie met hulle saam nie.
Hulle is gans te slim vir my en uitoorlê my
om elke hoek en draai.
Hulle lok my nader, verwelkom my o so hartlik;
ontvang my soos ’n eregas …
en eers as dit te laat is, ontdek ek die bytplek.
En voel hoe my krag teen dieselfde tempo
as my selfrespek my verlaat.
Ek was nog nooit teen hulle opgewasse nie.
Ek sal altyd die prooi wees.
U moet my asseblief uit hul pad en gedagtes hou.
Laat my tevrede wees om op die agtergrond te bly:
swak genoeg om my voortdurende afhanklikheid
van U te besef, en klein genoeg om my plek
in die grootse meesterplan vir u koninkryk in te neem.
Tevrede met wie ek is, én waar:
u kind; in u hande.
Sekuur op die pad wat U vir my geskraap het.
Amen.
Barend Vos