Lees Psalm 140:7-14.
O Here my God aan wie ek behoort, my kragtige Redder, U beskerm my wanneer die goddeloses my aanval (v 8).
Here, help my om kop te hou in ’n tyd dat almal
rondom my klaarblyklik kop verloor; bloot oorgee.
Want daar is dié wat dooierus op my neem;
wat hierdie maklike prooi met een hou
uit die weg wil ruim.
Keer hulle, Here!
Leer my om te koes.
Beskerm my met ’n ondeurdringbare helm;
pantser my teen hul verwaande listigheid.
Verblind hulle wat my bloed soek; steek my weg agter u rug.
Laat hulle my miskyk, Here, terwyl U en ek
planne maak om hulle te uitoorlê.
Ag, en dalk sal dit beter wees as U finaal van hulle ontslae raak …
Gee hulle wat hulle toekom –
álles wat hulle vir ons ander toewens.
Ja, U kán maar hul boosheid op hul eie kop laat neerkom;
stuur die vurige kole wat U vir spesiale gevalle terughou
om op húlle neer te reën
en hulle vir oulaas weg te bêre.
Ver van u afhanklike kinders: die desperates, soos ek.
Ja, Here, ek weet dat ek soms my kop in ’n bynes
steek en dan na U roep om my weer te kom red.
Leer my asseblief om versigtiger te wees.
Om nie so maklik te vertrou nie.
Om my nie goedsmoeds te waag aan ’n konfrontasie
met mense wat my keer op keer met hul boosheid troef nie.
Help my om u wil vir my lewe te onderskei van my wense.
En om boosheid en sy doeners te vermy.
Red my van die domastrante “dapperheid”
wat U tog so goed van my ken.
Hou my afhanklik van U.
Wagtend op u woord, u bevel;
u beste plan vir my.
Amen.
Barend Vos