Lees Psalm 141:6-10.
Laat die goddeloses gevang word in hulle eie nette, maar laat my ongedeerd verbykom (v 10).
Here, dit is my opregte gebed dat u doel bereik
sal word deur die mense wat U gestuur het
om ons die leviete voor te lees.
Hoe anders sal ons leer?
Hoe anders sal ons weet
dat U steeds met ons gesprek voer,
selfs bo die moeilikheidmakers se geskreeu?
Dat dié bose geharwar iewers sinvol is?
In ’n tyd dat goddeloosheid so half ’n spitspunt bereik
en u kinders se uithouvermoë tot die uiterste beproef word,
is U ons enigste hoop.
Ons is stil geskrik vanweë die kragdadigheid van die kwaad.
Ons menswees lê die wêreld vol gestrooi:
die flentertjies lewe wat oorgebly het
nadat boosheid met ons afgereken het.
Dit is net U wat ons weer bymekaar kan maak;
wat ons kan vergewe, en vergeet dat U vir ons kwaad was.
Wat sal onthou dat ons steeds u eiendom is
en dat ons ál ons hoop vestig op ’n nuwe begin in u Naam.
O Here, sien tog toe dat U en u gesante se werk aan ons
toe nie tevergeefs was nie! Dat ons ons nou aktief wegkeer
van die bose; dat ons die goddeloosheid teenstaan
en ons volledig op U verlaat.
U sal agterkom dat ons oë op U gerig bly,
ja, dat ons bly kyk na die hand wat ons bewaar.
Die een wat in ’n vuis teen die vyand bal,
maar sag, verwelkomend, vir ons oopmaak.
U betrap hulle onverhoeds.
Hulle val voordat hulle dit besef.
En ons … óns het ons les geleer:
Ons onthou die God van ouds maar te goed.
En Hy, dié Goedheid, vergeet óns nooit.
Amen.
Barend Vos