Lees Psalm 142:1-5.
Ek soek hulp, maar niemand wil help nie, daar is vir my geen vlugkans nie en niemand gee vir my om nie (v 5).
Here, dit lyk my al hoe sekerder dat niemand
regtig omgee nie. Ten spyte van die trooswoorde
wat aangebied word. Die herhaalde versekerings,
die motiveringsversies; versamelde wyshede. En
veral die vrolike “sê maar as ek kan help, hoor!”
wat in die verbygaan na my toe kom. Gee julle
regtig om? het ek stilswyend gewonder. My vrae
maar vir myself gehou; oor my probleem geswyg.
As jy nie na jouself omsien nie – wié sal?
Mense het genoeg eie moeilikheid wat hulle aandag vra.
Private smart wat hulle moet verwerk. Eie keuses
wat hulle nie kan ontwyk nie. As hulle soms die
tyd en energie vind om aan jou aandag te gee,
is dit met ’n onuitgesproke – onbewuste, dalk –
verwagting: Wat sal ék daaruit kry? Hoeveel?
Dus bly ek opgesluit in die selfsorg-grot waar ek
my – só voel dit – lewenslank reeds bevind.
Met weinig hoop op uitkoms. Niemand sal my help
om te ontsnap nie; niemand sal vir padkos sorg nie.
Daar is geen hoop op herberg of bloot ’n voorlopige
skuilplek nie. Ek sal self moet sien kom klaar.
Nou, Here, wat is die kanse dat U …?
Ek weet, ek wéét U is al sat geluister
na my treurmares en moeg geploeg
aan my ou moeilikheidjies. Ek is maar
te bewus daarvan dat ek geen grond
onder die voete het as ek U wéér kom
soebat nie; U het hoeveel keer al gehelp.
U het my aangehoor en gered. My nood
raakgesien en kos en skuilplek voorsien.
U was dáár.
Niemand het omgegee nie.
Net U.
Sal U dit nou weer doen? Asseblief?
Amen.
Barend Vos