Lees Psalm 142:6-8.
Ek roep na U om hulp, Here, ek sê: “U is my toevlug, buiten U het ek geen deel in die land van die lewendes nie!” (v 6).
Here, ek is ’n gewoonte-roeper; U ken my só.
Ek kry engtevrees – dan roep ek benoud: Here, help!
En hoogtevrees – dan gil ek paniekerig: Here, help!
Ek bevind my op ’n onbekende plek – donker, ver,
en roep verwese: Here, kom help my! Nou! Gou!
U moet sekerlik al moeg wees hiervoor, Here:
dié desperate gesmeek. En so aanhoudend.
Soos ’n neulerige kind wat wil aandag hê;
’n oumens wat nie meer goed hoor nie
en net dubbel seker maak dat U hoor.
Só is ek.
En die wonderlike, nee, verbysterende van alles,
is dat U daardie gesogte aandag aan my gee;
dat U wel sorg dat ek van u nabyheid verseker word.
Tot die volgende keer …
Ek het mos die lawwe gewoonte om te twyfel.
Om my min te steur aan die erns van u antwoorde.
Om te kies om myself weer jammer te kry; my opnuut
in ’n hoek te jaag. Om weer die boeie vas te sluit
en in ’n eenkantplekkie te gaan opkrul
en hartstogtelik te begin huil.
Voor ek, nogmaals, begin roep …
Moenie vir my kwaad word nie, Here!
Verduur tog die gesanik.
Sien, ek het gedink dat as U my uit hierdie hoekie
vir eensames kan bevry en my kan bring op ’n plek
waar ek weer ’n stem het, ek u lof sal besing.
Ek sal sê, entoesiasties vertel, dat U dié bevryder
uit slawehuise is – juis ook dié wat ons self opgerig het.
En, Here, glo my maar:
Die skare sal juig!
Ons sal vrolik psalmsing.
Amen.
Barend Vos