Lees Psalm 143:1-2.
Moet tog nie ’n regsaak teen my begin nie, want niemand wat leef, is voor U onskuldig nie! (v 2).
’n Mens se vrese het mos nie brieke nie, Here.
Al lyk elkeen se lysie paaiboelies anders as ’n ander s’n.
Soms lyk dit my dat hoe ouer ’n mens word,
hoe langer word daardie lys – skrikwekkend, nè, Here?
Daar is dus mense wat lankal nie meer hul lysie
teen hul hart kan dra of in ’n broeksak bêre nie.
Hulle sleep dit saam, vir almal om te sien …
En sélf bevrees te word.
Maar ek, ék skrik die meeste vir U omdat U die enigste
is wat wéét. Ek verdoesel lankal nie meer my vrese
met voorname soos “hy” of “sy” en veral “hulle” nie.
Dit is net “U”.
U wat weet, U moet my tog nie trompop loop
met u kennis nie. Ek sal verpletter word, teen die
grond wees. Onmagtig om ooit weer op te staan –
en dan sal hulle almal spoedig ook uitvind.
En ek ken hulle, Here: Hulle sal kamma-besorg kom buk
en klikgeluidjies met die mond maak. Hulle sal ewe gaaf
kom sê: “Ai, ons is maar almal mense, gebroke.”
En hulle dan haas om gou hul feilbaarheid te gaan
uitleef daar waar hulle alles vertroulik kan gaan oorvertel.
Daarom kom soebat ek by U:
Moet my asseblief nie dagvaar
om voor U te verskyn nie.
Ek het geen verweer nie.
Niks om ter verdediging te sê nie.
Ek sal verpletter word.
Vriende sal verstom staan
en vyande sal smaal: “Ek het julle mos gesê!”
Ek soek nie witvoetjie nie.
Ek het geen verskoning nie.
Ek het net vir U.
Amen.
Barend Vos