Lees Psalm 143:3-12.
Ek dink aan die verre verlede, ek peins oor alles wat U gedoen het en oor die werk van u hande dink ek na (v 5).
Daar is dikwels vir my geen ander toevlug nie, Here,
as my dunnerige geheue.
Rietskraal is hy.
Maar hierop maak ek staat vir veel meer
as die onthou van die o so ontwykende name
en plekke waar my sleutels gebêre is.
Só roep ek u Naam op, en die tye toe U
kragtig ingegryp het. Ek onthou graag
u wonderwerke wat voor ons oë gedoen is.
Dit staan my helder voor my vlakkerige gees:
U wat beveel, en dit geskied.
Kyk dan nou, Here, hoe ek my hande na U uitsteek
en smagtend soebat dat U weer, soos van ouds,
u stem sal dik maak en die kwaad verjaag.
Sien my raak, Here! Ek is besig om dié stryd te verloor.
Wil U nie maar, soos die ou mense gesê het,
u goedertierenheid laat botvier nie?
Sodat ek welgeluksalig kan voortleef op die plek
wat U vir my voorberei en toegesê het, o God van ouds?
Herinner my dan ook aan die ou weë waarmee ek
eens so vertroud was; die smal weg wat die enigste
goeie uiteinde het. Help my om dit nougeset te volg.
Neem my aan die hand, want ek sien ’n afdraaipad
van ver af raak. Lei my tog voetjie vir voetjie voort.
My geheue is maar dun, Here, en speel my dikwels
parte. Ek onthou net wat ek wil en bêre die res
só diep dat ek dit nie meer kan bykom nie.
Maar U skep splinternuwe herinneringe.
U wat ten spyte van alles my naam en adres onthou,
en op u vingerpunte alle besonderhede van my verlede het.
U was dit af; U maak u hande blinkskoon voordat
U my op die nuwe reis neem.
Amen.
Barend Vos