Lees Psalm 144:1-4.
Geloof sy die Here, Hy is my rots. Hy leer my hande om oorlog te maak, my vingers om te veg (v 1).
Here, ek is vandag op vele gebiede bekwaam.
Danksy U.
Ek kan dinge doen omdat U my dit geleer het.
Ek kan dinge draai en pas; U het my handvaardig gemaak.
Ek kan my woord goed doen; U het my leer praat.
Ek kan sake bedink en bereken; U het my leer somme maak.
Vandag kan ek boonop sê ek kan liefhê,
want U het my eerste liefgehad.
Daarom is U die eerste een by wie ek aanklop
as ek moet wegkruip; U sal my leer waar en hoe
en veral ook hoe lank. G’n wonder
dat die ou mense U ’n “bergskuiling”
genoem het nie. “Toevlugsoord”.
Skild agter wie ek skuil: U beskerm my
elke dag teen hulle wat wil kwaad doen!
Net soms wonder ek: Hoekom, Here?
Hoekom soveel moeite en verdriet
met lawwe kortasempies soos ek?
En waarheen lei dit – dié besorgdheid?
Wat is u plan met hierdie bemagtiging?
Hoe loop die pad waarlangs U my lei?
En hoe seker is U dat ek altyd sal volg?
Maar Here, aangesien U my so veelsydig gemaak het,
kan ek sekerlik dié ontbrekende vaardigheid ook by U vra:
Leer my glo in die goedheid
van die hand wat my soms voorkeer.
Leer my U vertrou, o Here,
wanneer U my hardhandig teregwys.
En leer my om U te loof
as U my dwing
om van plan te verander.
Amen.
Barend Vos