Boodskap vir Vandag

Search

Ons seuns en ons dogters

Lees Psalm 144:12-15.

Mag ons seuns wees soos plante wat hoog groei in hulle jeug, ons dogters soos hoekpilare, uitgebeitel soos vir ’n paleis (v 12).

Hulle lê ons na aan die hart, Here:
ons seuns en ons dogters.

U, van almal, sal mos weet wat jou kinders vir jou is
en hoe jy oor hulle dink. Wat jou wense vir hulle is
en hoe ver en hoog en wyd jy oor hulle droom.
Dat daar nie ’n dag verbygaan – dalk nie ’n enkele uur –
dat jy nie op die een of ander wyse met hulle besig
is nie. Dikwels is dit ’n nostalgiese terugdink aan hul
kleintyd: speeltyd, slaaptyd … En hul aandrang
op láng stories. Die partytjies en veral die kordate sêgoed.

Maar, Here, meestal het dit met hul toekoms te doen:

“Wat gaan hulle word?”
vra die ander mense, die buitestanders.
Ons, wat elke oomblik met hulle besig is,
wil eerder weet – benoud, selfs paniekerig:
Wat gaan van hulle word?

Ag, Here, ons nadenke oor hulle,
ál die planne wat ons bedink,
speel in hierdie land af.
En daarom is dit met vrese bevolk.

Soveel van dié kommer groei bloot in oorbeskermende
ouers se gemoed; ek weet. Ons kinders lag daaroor.
Maar U ken mos my hart en, vernaamlik, U ken
hierdie land se hart. U weet dat daar grondige redes
vir die onrus in my binneste is. En die nouliks bedekte
krampagtigheid in my gesprekke met my kroos.
Hul voorspoed en teëspoed is maar myne.

“Wat kan ons doen?”
vra die mense en gooi hul hande in die lug.
Ons met die drome en die vrese;
ons wat kwalik met ons beklemmings kan saamleef –
óns vra: Wat kan U vir ons doen?
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.