Lees Psalm 146.
Ek wil die Here prys so lank ek lewe, ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is (v 2).
Here, my Here!
Hoe kinderlik opgewonde en grootmens-bly
maak U my! U laat my mos van kleins af sing –
en hopelik sal ook my begrafnis vol musiek wees.
My lewe is tot oorlopens toe vol liedere van alle soorte.
Hulle vertel van saggies-en-teer-tye
en God-is-hier-teenwoordig-geleenthede.
Hulle verklaar: ’n Vaste burg is onse God
en roep na ’n Here, Redder, groot en magtig.
Maar goddank, daar is altyd ’n liedjie
wat dit uitbasuin – ag, en soms sleg stotter:
Prys die Heer met blye galme!
Want kleintyd al het ek die les geleer om nie
op prinse te vertrou nie en na my Toeverlaat
te vlug. Om die God der leërmagte, die troue
Bondsgod van weleer, te alle tye te glo as Hy
verklaar dat Hy aan armes reg laat geskied en
vir hongeriges ’n spysenier is. Om Hom te eer
omdat Hy weduwees en vreemdelinge staande
hou en die bose stuit wat hul bloed kom soek.
Die lewe ís vol blye galme, Here,
selfs vir hulle wat net ’n fluistering
in die windstilte hoor en dalk juis
vir dié wat U bloot ken as ’n bos wat
nie uitbrand nie. Of ’n besembos om
onder te skuil. Hulle wat lewenslank
op soek gaan na groen weivelde en
uiteindelik besef dat daar ryke stof
in hul woestyn is. Genoeg skuiling.
Én dat dit soms ’n onverwagte oase
by ’n onwaarskynlike adres oplewer.
Here, my prys-die-Here!
O, my siel sing my klein ou liedjie
oor u grote Naam.
Amen.
Barend Vos