Lees weer Psalm 23.
U laat my by ’n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos ’n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid (v 5).
Here, my oppasser, ek het nog net tekeninge
van ’n herder gesien. Romantiese kleursketse
in ’n ou storieboek. Bladsye vol daarvan.
Maar dit gee my tog ’n goeie prentjie van U wat sorg.
U wat my versorg sodat ek geen gebrek ken nie.
U wat my met u eie hande bederf; wat voor al wat leef
en beef ongehoorde gasvryheid aan my betoon.
Die woordprentjies hier help my verder, Here:
Ek verstaan nou meer van die reis waarop U my vergesel.
Beter gesê: Ek sien die roete waarlangs U my lei.
Die regte paaie, op weg na die rusplek by die water.
Hoe goed, hoe troostend om te weet
dat U deur die donkerste klowe by my is.
Dat ek kan gryp na u stok en u staf
en nooit meer bang hoef te wees nie.
Hoewel, Here, ek nie mooi verstaan
dat U vir my ’n gasheer is nie.
Ek bedoel … hoekom sal U vir my ’n tafel dek?
Vir mý?
My boonop behandel asof ek iets besonders is.
Ék?
Om watter rede sal U my wil salf?
Wie is ék dan dat U my so bederf?
Ek weet nie, ek weet nie.
Ek is net bly, verstom, oorweldig.
Daarom, sal U sien, sit ek met dankbaarheid aan.
Buig ek my hoof vir die olie.
Sluk ek diep aan die beker, boordensvol.
Ja, Here, dit is so dat ek in u huis tuis is.
Dit is my plek.
En hier sal ek bly, moet U weet.
Hier gaan dit nog lekker word!
Amen.
Barend Vos