Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

In dorre streke

Lees weer Psalm 42.

Ek dors na God, na die lewende God. Wanneer kan ek gaan en voor God verskyn? (v 3).

Here, droogte is ’n verskrikking.
Die skepping skreeu om hulp …
en net die woestyn hoor dit.
Plant en dier word weer stof.
Mense kyk magteloos toe;
hulle weet nie wat om te doen nie.
Net die drogbeelde vind hul lêplek
ónder in die beangste siel.

Op ’n dag, wanneer die woestyn intussen weer
paradys geword het en die diere spekvet loop
en pronk, word destyds se droewige prentjies
onverwags metafories benodig. En opgediep.
En skrikwekkend geskik bevind vir die verhaal
van ’n mens en sy verlange. Van ’n troostelose
oerdrang na God. Soos ’n hert in dorre streke,
skreeuend dors, roep die siel na die liewe Here
van sy jeug. Herinner hy God aan tye lank reeds
verby; dae vol oorwinning. Lof en geloof.
Voor die ongelukkige dae gekom en die jare
aangebreek het waarin hy geen troos meer
vind nie. Toe ál wat hy hoor die smalende
spotstemme van die nouveau-ongeloof is.
Die siniese vrae: “Waar is jou God dan nou?”

O Here-van-die-dorre-streke:
Hoor die geskreeu van u kind!
Laaf sy siel en lei sy swakke skrede
tot by die nuwe fontein wat U berei.
Laat hy hom by U versadig.

Help hom om, soos destyds, ’n lied te sing.
En as hy dalk vergeet het hóé, gee hom nuwe
woorde wat by die nuwe prentjie pas. Verras hom
met ’n liedereskat wat die boosheid verjaag.

Ja, laat hom sing en sing …
totdat twyfel tjoepstil bly.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.