Lees weer Psalm 49.
Die mens wat met weelde en al ’n dwaas bly, is soos ’n dier wat vergaan (v 21).
Here, dit laat my nogal goed voel om gereeld te hoor
dat rykes nie noodwendig die aansien by U geniet
waaraan hulle gewoond geraak het as hulle in hul paleise
sit en in swierige koetse ry nie. As almal oor hul voete
val om eer te betoon en laag te buig nie.
Ag, ek is seker maar net erg jaloers op ander
se voorspoed – ook maar mens – en verlekker
my waarskynlik in die wete dat daar ’n wiel is
wat sal draai. Dat daar “eerstes” is wat tóg
laaste sal wees. Dat die doodskleed nie sakke
het nie en ’n grafsteen beslis nie ’n kluis nie.
Maar dan tref dit my, dié donderslag:
Here, ék is dan ook ryk!
Ek leef in ’n huis met vaste mure;
daar is vertrekke vol meubels.
Vensters met nuwerige gordyne.
Ek kom met ’n voertuig oor die weg.
Ek dra elke dag skoene.
Daar is diefwering voor my vensters om my besittings te beskerm.
Ek het beleggings en spaarplanne; fondse vir aftrede én ’n noodgeval.
Ek kan kies wat ek vanaand wil eet; my huisdiere het meer as baie.
Ek kwel my dus oor ’n oorvloed waarin ek deel.
Ek verlekker my in my toekomstige leed.
Ek kla met ’n witbrood onder elke arm.
Ek weier my naaste ’n korsie.
Ek sondig deur te verkwis.
My broek het diep sakke
met motgevrete gate.
In my kamer is ’n kluis
met ’n geroeste slot.
En ek is grafdiep in die skuld
by U.
Amen.
Barend Vos