Lees weer Psalm 51.
Neem tog my sonde weg dat ek rein kan wees, was my dat ek witter as sneeu kan wees (v 9).
Here, hier staan ek met my hande vol skuld.
’n Siel besmet met selfverwyt.
Maar ek hou my dapper.
Ek probeer U in die oë kyk en pa staan vir my sonde.
Ek dink ek sal maar voor begin.
Opnoem wat alles skeefgeloop
en waartoe dit gelei het.
Dit is ’n lang storie, Here; een wat U goed ken.
Hoor dit maar weer … as U wil.
Ag, Here, nee.
Ek is tog te vuil om hier te staan.
Ek het niks te sê nie. Verskoon my, asseblief.
Ek dink ek gaan nou liewer lê.
Ek het nie die moed om weer op te staan
en nog ’n keer, vol verskonings, voor U te verskyn nie.
Daar is maar een waarheid, wat U ken: Ek is skuldig.
Dit was van die begin af so.
Tot nou toe loop ek met daardie drag.
Dit word net al hoe swaarder.
Boonop belas ek my steeds verder …
Hier sal ek dus moet lê totdat U my ophelp.
Maar U sal ver moet buk, Here, laag.
Ás U nog aan my wil vat.
As U die moeite wil doen om my weer op te help.
Om my hart se stukkies in u hande te neem.
Dit weer skoon te maak. En heel.
O, en hier is dan my mond ook – vir u nuwe lied.
Hiér my hande en voete – vir u nuwe begin.
Hier is my gees – vir U om dit opnuut te vul.
Kyk, dan sal ek weer ék wees!
U skoongewaste kind
met die blink, blye oë.
Amen.
Barend Vos