Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

’n Mens se mond

Lees weer Psalm 57:5.

Ek is hier tussen leeus, tussen mense wat my wil verskeur. Hulle tande is spiese en pyle, hulle tonge is skerp swaarde (v 5).

Here, hoekom is dit so dat, bo alles,
die mens se mond die ergste wonde toedien?
Is hande, byvoorbeeld, nie meer vir baklei geskik nie?
Selfs voete, wat dodelik kan skop?
En wat van ’n harde kop wat bloederige skade kan aanrig?
Of ’n knie, wat teen die regte hoek blitsig gelig word …?

Nee, nou moes ek leer dat ’n mens se mond
dié moordwapen is; jou tong die troefkaart in jou arsenaal.
En so veelsydig.
Dié grofgeskut dood óók met delikate stekies.

Ag, Here, vergewe my hierdie spitsvondigheid
wat met soveel stompsinnigheid na U toe kom.
U ken my mos. U weet dat wanneer my woorde
opraak en my normale oorwoënheid onder druk
verkeer, ek my geredelik op sulke onsin verlaat.

Want hulle het my toe beetgekry, Here.
Hulle het hul tande in my geslaan
en maak gereed om my te verskeur.
Tevergeefs probeer ek my skaars hou; wegkruip
agter verduidelikings en skuil by verontwaardiging.

Dit gaan nie werk nie; verontskuldiging wysig nie
hul wraaksug nie. Hulle het bloed geruik …

Ek het geen ander toevlug nie as U.
U wat hul oë sal moet verblind
en hulle met doofheid moet slaan –
en veral hul bekke styf toebind.

Maar as alles verby is, Here – sal U asseblief ondersoek instel
na hoe dit gekom het dat ek in dié kloue beland het?
En as dit my skuld is – dit is tog ’n wesenlike
moontlikheid – moet U ’n ander plan maak:
Spreek U dan die woord.
Maal my met u mond.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.