Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Woestyn

Lees weer Psalm 63:1-3.

Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; ek smag na U soos in ’n dor en droë land, ’n land sonder water (v 2).

Here, hierdie woestynbestaan is te veel vir my.
Ek vra my tot satwordens toe dít af:
Hoe het dit gebeur dat ek hier beland het?
Hoe het dit gekom dat ek ná al die jare steeds hier is?

Ja, ek weet, Here, dat ’n oase soms
onverwags opgeduik het. Wat inderdaad tot my redding
verskyn het met ’n genadige groen wat my gelaaf het. Getroos het.
Moed gegee het.

Maar wat my opnuut laat verlang het na iets beters.
Soos ’n kwylende hond wat ’n belowende reuk gekry het.

Hoe lank nog, Here? Hoe lank nog hiér?
Hoe lank nog moet ek tevrede wees met die verrassinkies
af en toe? Skaars,
klein
verposings …
wat in sulke sporadiese brokkies na my toe kom?

Dit is die meedoënlose blootstelling wat my onderkry, Here.
Die felheid daarvan. Die genadeloosheid.
Hoe smag ek na ’n sagter omgewing, ’n milder bestaan!
U voelbare teenwoordigheid; die geredelike toegang tot U.
Iewers waar lof gemaklik leef; waar oorvloed as die norm geag word.
Selfs smart is soeter daar, wil ek my voorstel.

Tot tyd en wyl sal ek seker maar hier moet bly.
My oë skrefies trek, my hoof bedek.
My rug probeer toemaak so goed ek kan.
Die smagting binnetoe skuif.
Die dieper dors wegdink.
Die sweet van my aangesig
as beloning probeer beleef.

Sleepvoet sal ek voortslof op hierdie swerftog.
Ten minste is u skaduwee in die blakerende son
goed sigbaar. En dit is darem iéts.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.