Lees weer Psalm 68:6-7.
God laat eensames in ’n huisgesin woon en lei gevangenes uit na vryheid, maar wie teen God in opstand is, woon in ’n kaal woestyn (v 7).
Here, daar word so dikwels oor u “mag” gespog
en oor u “onmag” gesmaal
– apologete en agnostici is mos ewe lief vir nuttelose speletjies –
dat daar weinig aandag gegee word aan u omgeehart.
Ja, terwyl hulle fanaties met mekaar saamstem
en skuimbekkend met andersdenkendes verskil,
gaan U luiters voort om God te wees:
’n Vader vir vaderloses, ’n eggenoot vir weduwees;
’n tuiste vir eensames, ’n genade vir gevangenes.
Raasbekke verstaan hiervan niks.
Hul verdoemende gedawer is net vir mekaar
se ore bedoel: o so soet, so ingelig, so gevát
vir hulleself.
En U fluister trooswoorde vir die wesies
en steek ’n warm hand na eensames uit.
U is God.
O Here, leer mý ook daardie taal!
Want ook ek druk my dikwels sonder deernis uit
en skep ’n bakleierige beeld.
U kinders tree mos anders op. Of hoe, Here?
Ons aard immers na ons Vader, nie waar nie?
Maar om die eerlike waarheid te sê, Here,
ek ken nie eens die ABC van u taal nie.
Die mees basiese beginsels bly vir my vreemd.
Ek is mos ’n verwoede verdediger van u saak,
’n meesterlike verklaarder van u wil.
En ek is daarvan oortuig dat ek elke argument wen
en dat my teologie durend is, gewaarborg vir triomf.
Maar ek ken steeds nie die eerste klanke van u liefde nie.
Want wie sal ooit kan woon
in die verskroeide aarde
agter my?
Amen.
Barend Vos