Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

As ek opkyk

Lees weer Psalm 68:12-19.

Waarom, berg met jou hoë kruine, kyk jy met afguns na die berg wat God as sy woning verkies het, waar die Here vir ewig woon? (v 17).

Here, dit was blykbaar nog altyd so
dat die berge van u majesteit getuig.
U kinders het nog altyd oor U gepraat
as die Een wat hoog verhewe is;
die God met die oog wat van bo af kyk.
Sommer kortweg: “die Man daarbó”.

Daarmee het hulle seker ook
“die Here in die hemel” bedoel.
Maar die hemel was nog altyd gans te hoog vir ons.
Was dit daarom dat u mense U liefs in die berge gesoek
en U op daardie hoogtes laat tuiskom het?
Dat hulle dan dáárheen kon wys en sê:
“Kyk, die Here is my rots; my bergvesting.”

Is dit die beste waartoe mensetaal in staat was?
Sodat daar verstaanbaar oorvertel kon word
hoe Godsmanne soontoe klim en U daarbó ontmoet?

Dalk is dit ook omdat die heidene
berggode versamel het en in die eggo’s
en die rammeling van vallende rotse
en in weerligvure en die kruin
se wolke stemme gehoor het.

En toe het u kinders ook vir U daar gevind …

Nou kan hulle die gode se heuwels afspeel
teen die hoë berg wat U as woonplek gekies het.
Almal weet van u paleis, dáár.
En die gode se lendelam pondokkie.

Ja, Here, die ou stories en segswyses interesseer my,
al weet ek nie aldag hoe ek dit moet lees nie.

Ek dink nie dit maak soveel saak nie.
Want as ek deesdae opkyk, na die berge,
weet ek waar my hulp vandaan sal kom.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.