Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Dankie vir die verhale!

Lees weer Psalm 78:1-4.

Ek gaan ’n gedig voordra, ek gaan julle inlei in geheimenisse uit die verre verlede (v 2).

Here, daar is tog sekuriteit in die ou stories.
Dit bied ’n vreemde warmte, ’n welkome tuiskoms
in ’n tyd toe geloof in U ongekompliseerd was.
Toe ’n pa en ’n ma en ’n onderwyser se mond
vanselfsprekend getroos én aangespoor het.
Toe ’n prediker wat kon oorvertel ’n seëning was
en ’n inspirasie vir dié wat kon luister en onthou.

Die verhale oor U en u mense in die ou tyd
bring vir my troos; dit spoor my steeds aan.
Kleintyd reeds het dit deel van my lewe geword;
is dit in my verwysingsraamwerk opgeneem.
En in dié dae, Here, dink ek baie dikwels daaraan.
Leef ek daarmee saam. Teer ek daarop soos een
wat ’n nimmereindigende winter moet oorleef.

Want die somer talm om te kom.
En twyfel se taai handjies
het my hart in ’n ysige greep.
Wette laat my nie meer wakker
skrik nie en harde dogma druis
deesdae ongehoord by my verby.

Wat dan nou van ons kinders, Here?
Wat van ’n geslag wat grootword met die druk van ’n knoppie?
Wat leer met die pistool van verwagtings teen hul kop?
Wat uitasem fladder tussen maatjies se praatjies en ouers wat swyg?

Ons kinders het arm geword, Vader.
Óns het hulle beroof van die enigste troos wat ons ken:
die goeie nuus oor God.

Nou soebat ek: Voordat moet en moenie
ook ons kinders postmodern meevoer
tot presies daar waar ongeloof sonder
enige verhindering sy kloue kan inslaan,
bring mý tog weer tot by die eerste wet
van die verhale oor U: Vertel! Vertel!
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.