Lees weer Psalm 78:40-55.
Hulle het nie aan sy mag gedink nie, aan die dag waarop Hy hulle van die vyand verlos het nie (v 42).
Die Kinderbybelprentjies oor die tien plae
staan my vandag helder voor die gees, Here:
Ek onthou die kinderlike afwagting …
’n Nuwe hoofstuk; vanaand se storie!
Die reuk van papier wanneer die Boek
deur eerbiedige ouerhande oopgeblaai
word. Die veelkleurige verrassing op elke
nuwe bladsy. Ma se vingers. Haar stem.
Ek herinner my goed aan ’n verwondering
oor ’n rooi rivier. Die gril vir paddas, peslike
muskiete, steekvlieë. Groot oë oor wit hael.
Die vrees vir drie dae se nagdonker. En dan,
ag, Here: die onbegrypende, bitter hartseer
van ’n sagte ou kindjie oor die farao se seun.
U kinders word aan baie dinge blootgestel, Here.
Óns geskiedenis is nie ’n maklike leermeester nie.
Die lesse kom nie altyd in volkleur, of in eenvoudige taal,
of deur kort woorde en vriendelike verduidelikings nie.
Daar is geen storieboek-romantiek in meedoënlose
werklikhede en die juiste feite van hiérdie lewe nie.
Daarom is die ou stories vir ons so waardevol:
Dit stel ons bloot aan ’n eeue oue ontsag vir U.
Dit herinner ons aan wat U gedoen het – en steeds kan.
Dit sleep ons siniese ongeloof na ’n tweede, derde naïwiteit.
Ons reis die hele pad van wesensvrae tot by ongekende vrede.
Ons vind dit selfs in ons kliphart om vir onsself te lag …
en heimlik te wonder oor u glimlag.
Ons verwonder ons opnuut – teen ons volwasse,
geleerde wil in – aan wie U inderdaad was en is en sal wees.
Dit kos ons jare om te leer, Here,
dat u geduld met ons ’n ewigheid lank is
en u genade goddank genoeg.
Amen.
Barend Vos