Lees weer Psalm 79:8-9.
Moet tog nie die ongeregtighede van vorige geslagte op ons laat neerkom nie, ontferm U tog gou oor ons, want ons kragte is gedaan (v 8).
Wat sou U destyds bedoel het, Here, met die sondes
van die vaders wat tot in die derde geslag
aan die kinders besoek word?
Die hoeveelste geslag is ons?
En waar het U begin tel?
Wanneer, by watter vaders, het die sondes
dan só erg geraak dat dit nou op óns rekening kom?
Vergewe my tog dié vrae, Here, maar die skuldeise neem net toe.
Daar word vingers gewys en verregaande beskuldigings opgediep;
dit lyk asof dit nooit gaan end kry nie. Die beloofde oordeel
word ’n nimmereindigende dreigement. Alles kom op ons rekening.
Hoe kon ons voormense ooit gedroom het
dat hul netjiese plannetjies sou uitwerk!
Hoe het hulle kon dink niemand sou kla nie?
Dat die geslagte ná hulle skotvry daarvan sou afkom?
Dat geen haan daarna sou kraai nie?
Dat God nie sou ingryp nie?
Want ons vaders se sondes, en ons s’n, tref altyd ’n medemens
en slaan bloederige seermaakhoue teen liggaam én siel.
Dit gaan reguit na u hart.
Ons teiken ons eie voordeel –
en loop ’n ander uit die aarde.
Ons mik hoog –
en mis ons doel.
Uiteindelik is dit U wat diep getref word.
U wat aan die ontvangkant is.
Maar dit is ook U wat u kinders se wonde verbind.
U wat hulle belowe dat U geregtigheid sal herstel.
U is ál genade …
ook vir ons, die vaders se erfgename.
Ons beroep ons dus ten slotte op U –
Vader van alle geslagte.
Amen.
Barend Vos