Lees weer Psalm 84:1-4.
Selfs ’n mossie het ’n nes en ’n swaeltjie ’n plek vir haar kleintjies daar by u altare, Here, Almagtige, my Koning en my God! (v 4).
Here, die grootmense het destyds vol ontsag
van “die huis van die Here” gepraat
en na my kleintydse kerkgebou gewys.
U blyplek. Die groot sandsteengebou met die enkele Inwoner
wat op Sondae sy huis oopsluit sodat almal vir ’n uur
of wat kan binnekom; ’n sagte versie kan bid en ’n bietjie sing …
en dan baie lank moet stilbly sodat die gesalfde
van die Here vir ons kan vinger wys.
Haai, Here! het ek daardie tyd al gedink:
Daar is darem sekerlik beter blyplekke as ons ou kerk.
Geriefliker sitplekke, ’n groter tafel, ’n goeie mat.
’n Lekkerder atmosfeer, mooier musiek.
Meer opbeurende geselskap.
Vriendeliker gesigte.
Sagter harte.
Vrede.
Gelukkig weet ek deesdae dat u werklike woning nie ’n toring
en bruin houtbanke het nie. Dat sandsteen en sink
U nooit kan bevat nie en selfs kerkmense U nie kan uitsluit nie.
Daarom ignoreer ek ook die verskonende nota oor die oneerbiedige
duiwe wat vrolik bo die plafon rondskarrel as die prediker raas.
En ek probeer nie dink oor die “plan wat gemaak sal word
om van die lastigheid ontslae te raak” nie. Maar terwyl die gemeente
glimlaggend gekasty word, dink ek tog: Los die voëls van die hemel uit!
God sorg vir hulle. Hy gee ook vir hulle ’n woonplek.
En waar is ’n beter plek as juis hier?
Hiér, ja, ten spyte
van die geleerdheid en die eenvoud;
die banaliteit en gewydheid;
die lelik, die mooi;
die spyt en aspris.
Die menswees.
Want hier tussen ons, in hierdie ruim huis,
is selfs die God van die hemel tuis.
Amen.
Barend Vos