Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

O ewige God

Lees weer Psalm 90:1-10.

Here, U was vir ons ’n toevlug van geslag tot geslag. Voordat die berge gebore is, voordat U die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God! (v 1-2).

Here, soms kry ek lag vir ons verwaandheid
om te dink dat ons regtig met U kan praat.
So asof ons mekaar se portuur is!
O, so vrymoedig.
Ou vriende.
Familiêr.

’n Eenvoudige sommetjie wys hierdie mistasting uit:
Ons is die huidige generasie; U kom oor ál die geslagte heen.
Duisend jaar is vir ons ondenkbaar; vir U is dit so goed soos gister.
Daarby ken ons die sterflikheid van ons liggaam alte goed:
Binne ’n Goddelike oogwink verloop daar ’n ganse menslike lewe.
Één kyk van Bo …
en alles hier onder is verby.
Verlede tyd.

Ons word sewentig, tagtig.
’n Ouderdom in drie syfers is groot nuus.
Daarenteen, o ewige God, haal dit geen hoofopskrifte
wanneer die argeologie opwindende opgrawings openbaar
en noodgedwonge nuwe nulle by vorige berekeninge voeg nie.
Geen hooggeplaaste gaan kuier – voor vele kameras! – by U
wanneer kragtige teleskope nog verbluffende sterrestelsels
ontdek en verdere leidrade oor u heelal probeer uitpluis nie.
Van altyd af is die uitspansel u speelplek –
en ons begrip stuit reeds op die armsalige
ses-voet-werklikheid van ons laaste swart gat.

En ons praat met Ú …?
Ons waag dit om te vra,
te eis, kwaad te word?
Om u Naam op ons lippe te neem?

Ek wou nou sê: Sit ons op ons plek, Here!
Maar sommer hier vlak binne my leef daar die vermoede
dat my enigste plek by U is.
O ewige God.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.