Lees weer Psalm 96.
Sing ’n nuwe lied tot eer van die Here, sing tot eer van die Here, almal op aarde! Sing tot eer van die Here, prys sy Naam, verkondig elke dag sy reddingsdade! (v 1-2).
Here, hoeveel liedere is daar nie al vir U gesing nie!
Is daar nóg ’n manier waarop ons U met ander woorde kan besing?
Is daar dan nog note oor?
Dit sal sekerlik steeds ’n ryke psalm moet wees.
Of dalk ’n diepsinnige gesang. Miskien weer ’n kinderlike Halleluja
vol outydse woorde (effens aangepas);
’n elementêre wysie (met ’n wakker beat)?
Sal U genoeë neem met ’n moderne gospelliedjie
– ’n song, soos hulle sê?
Kloppende begeleiding? ’n Skreeuende kitaar en hare wat skud?
Hoe sal ek weet?
Van musiek en liriek weet ek weinig.
Van U nóg minder.
Ek hoor wel van begaafde komponiste wat hul lewe wy aan lof,
dank en treur. Stip dra hulle sorg dat alles – van opening tot slot –
in die juiste sleutel geskied.
En eeue lank stoei gerekende digters ’n teks los
wat in toonaard hierby pas.
Dit is uiteindelik die ware kunstenaars wat hande in die lug gooi
en hulleself tot sukkelaars verklaar. En huiwerig …
flentertjies
papier
aan die musiekleier oorhandig: die som van hul begaafdheid.
Die rymelaars, daarenteen, slaan keer op keer op dieselfde tamboer
en ryg hulle songs uit in ritse sing-along-hits: praise (x 3)
and worship (x 4).
Ag, Here, en die enigste nuwe woorde wat sprakeloses soos ek
U kan bied, is vol herhalings. ’n Ou-ou tyding.
Op hoeveel maniere kán ’n mens dan “Prys die Heer!” sê?
My nootarmoede is boonop in volledige harmonie daarmee:
Want watter nuwe wysie sal tog
met blyer galme
hierby hoort?
Amen.
Barend Vos