Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Eenvoudige ritmes

Lees weer Psalm 104.

Mag daar aan die roem van die Here geen einde wees nie! Mag die werk van die Here Hom vreugde verskaf (v 31).

Here, die wonder van u skepping
lê in daardie eenvoudige ritmes:
Die son wat opkom
en weer ondergaan.
Lig en donker
wat mekaar soos klokslag afwissel.
Dan die maan wat groei
en krimp …
van sekel
tot vol –
en weer terug.
Die waters wat hul plek ken
en hul oewers respekteer.
Die diere se begrip van hiërargie.

Dit is net die mens …
Dit is net hierdie simpel skepsel wat soos ’n stommerik
voortgaan om sommetjies te maak wat nooit uitwerk nie.
Hierdie bedinksel van U, Almagtige, wat teen wil en dank,
téén raad en verstand, alles wil optel waaraan hy sy hande kan slaan.
En alles wil aftrek wat te hoog is vir sy begrip.
Wat alles wil deel tot hap-grootte;
dit wil maal ten einde dit klein te kry.

Ag, Here, dit sal vir ons makliker wees om U te eer
as ons maar net voldoende kindwees in die kop het
om ons die seemonsters as u speelgoed te verbeel.
As ons, u beeld, minder in spieëls kyk
en oor ons skouer loer
en na ons naeltjie staar …
En eerder opkyk, na die berge.

En as ons, u skeppingskroon,
dit sal afleer om ons diens aan U
altyd ’n glansgeleentheid te wil maak
en om deurgaans skitterend te wil wees.
Dán sal ons dalk u blink plan vir ons lewe snap:
die ritmes van menswees en die eenvoud van liefhê.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.