Lees weer Psalm 116:5-6.
Die Here beskerm die hulpeloses: ek was magteloos, maar Hy het my gered (v 6).
Here, hoe swaar moet dit vir U wees
om hulpeloosheid gade te slaan
op die skaal wat ék dit voor U kom uitstal!
So gereeld, so aanhoudend en o so voorspelbaar.
En, Here, hoe diep moet U nie sug
as ek in my reddelose armlastigheid
by U kom bedel en my bak hande
nogeens voor U kom oopvou nie.
Ag, en hoe bitter die pil wat U telkens
moet sluk as ek weer skoorvoetend
erken dat ek vir die duisendste keer
die basiese beginsels van liefde verloën het.
Ek sê dus nogmaals en vir wat dit werd is:
Ek besef dat ek u Naam geringgeag
en u troue sorg in die wind geslaan het.
Ek bely dat ek gewoond is aan afhanklikheid.
Noodlottig verslaaf aan gifte en gawes;
vasgeloop teen die verrotting van ontvang.
Onmagtig om óm te draai. Finaal voorgekeer.
O Here, daarom verstom dit my dat U telkens
’n plan maak om my nóg ’n kans te gee
om sinvol te leef. Dat U my, liggewig suigeling,
belangrik genoeg ag vir ’n nuwe begin in u ryk.
Nou kom lê ek weer my loodswaar gewete
voor u voete en gryp vervaard na u vergifnis.
Ek herken die pyntrek in u oë as die ondraaglikheid
van liefhê op die vooraand van ’n geboorte.
En ek besing die grootheid van die Here.
Ek juig oor God, my Verlosser, omdat Hy
na my in my geringheid omgesien het.
Hy wat magtig is, het groot dinge aan my gedoen.
Amen.
Barend Vos