Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Nóg ’n fees

Lees weer Psalm 118:27-29.

Die Here is God; Hy skenk ons die lewe. Begin die fees! Wuif met takke! Gaan tot by die horings van die altaar (v 27).

Here, wanneer ons vandag uitgeput rondsit
en die stories van die groot dag herleef
en die fees se wysies steeds in ons kop draai;
as die kinders van nuuts af speel soos gister
en u oordaad goedheid ons siel en lyf nog vul
en gemoedelikheid oral die botoon voer;
dan dank ons U vir nóg ’n fees wat ons gegun is.

Dankie vir die vrolikheid wat oral kon uitborrel,
vir die kleintjies se onbelemmerde blydskap
en die kinderlike vreugde van die oumense.
Vir die veelkleurige verspottigheid in ons
uitbundige viering van ons menswees voor U.

Keer ons dan, Here, as ons iewers laatnag
wil boeke oopmaak en uit pure gewoonte
sommetjies doen en koste probeer bepaal.
Leer ons tog die prinsipiële onberekenbaarheid
van u liefde en die ewigheidswaarde van u trou.

Weerhou ons ook daarvan om alte gou te vergeet
van die vrede op aarde en na te laat om U te dank
vir dié dae se welbehae by ons mense en in ons huis.
Bewaar ons tog van die besmetting van ons kleintjies
met die sinisme wat ons so slu en berekend bekruip.

Laat ons eerder in hierdie donker – wanneer almal slaap
en die blye eng’lelied finaal verstil het – op soek
gaan na die nuwe lig wat U vir ons laat opgaan het
om lewenslank, juis in die nag, vir ons te skyn.

En leer ons – u kinders wat so agterdogtig
bly oor goeie nuus – hoe om te dans.
Hoe om die lewe se evangelie-oomblikke
styf vas te gryp en daarmee onbekommerd
tot die laaste dag se hanekraai te tiekiedraai.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.