Lees weer Psalm 121.
My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het (v 2).
Here, daar is werklikwaar mense
wat sê dat die berge hulle beklem;
dat hulle bang is vir daardie hoogtes
en selfs meer bevrees vir die dieptes.
Hoe kan ’n mens vrese hê vir ’n plek
wat U vanselfsprekend bewoon?
Vir u ongetwyfelde teenwoordigheid
op die veraf kruin
of die hoë kranse
wat antwoord gee op die skreeu na God?
Dit is tog juis dié sigbare oormag van God wat sy kleine
kinders se bewerigheid op berge en in dale en oweral besweer.
Wat fyn luister na hul daaglikse voeteval
en hul oë snags sluit; hulle altyd gerus
laat voel omdat hulle ’n beskermer ken
wat nooit sluimer of slaap nie.
Hy wat die son opdrag gegee het
om die weerloses genadig te wees,
en die maan om vir ons te glimlag,
Hý hou bo alles sy hand oor ons.
Hy keer die onheil van ons af weg
en vou ons lewe toe.
Hy bal sy vuis vir wat skrik maak
en druk ons angste dood.
Kom dan, o Skaduwee aan my regterhand,
U wat my ’n hele jaar lank getrou gelei het
in die helder gange van u teenwoordigheid
en my laat aansit het by die tafel van u troos,
kom, beskerm my by die uitgang van dié tyd.
En dra my deur, tot by u ewigheid.
Amen.
Barend Vos