Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Gewer

Lees weer Psalm 127:1-2.

Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite ’n bestaan te maak. Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap (v 2).

U vrygewigheid laat ons sprakeloos, Here.
Ons staan gereeld met ’n mond vol tande
voor ’n God wat gee sonder om te verwyt;
wat werklik omgee – en met soveel moeite
sy kinders oppas, sonder om ’n oog te knip.

U is gul in u gawes, Here.
U voorsien oorvloedig in alles
wat ons vra – en oneindig meer.
U leer ons dat swoeg en sweet
nie die dag se brood inbring nie;
dit is U wat dit snags aflewer.

U staan sterk in u beskerming.
U tree vir ons in die bres.
U gaan by die torings om
en U bewaak die wagte.

U gee ons ’n nuwe, vars geloof.
U bou dit stukkie vir stukkie oor
op die uitgebrande as van dié jaar.
U skep ’n meesterstuk uit stof
en spin gloeiende goud uit strooi.
U maak werk van moedeloosheid
en korte mette met ons kwellings.

Wagter op ons stad se mure, bevry ons asseblief ook
van die reddelose tevergeefsheid van alle nuwe vrese.
Keer ons oë weg van onsself en ons eie klein kommer
en rig dit op U, die gewer, van wie ons hulp kom.
Dra ons op u hande, en ons belange op u hart.
Druk ons teen u bors, maak ons rustig.

En maak ons asseblief sonder sug aan die slaap.
Sodat ons teen wakkerwordtyd opnuut sal leer
hoe U ons toe alles gegee het wat u hart begeer.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.