Lees weer Psalm 139.
Here, U sien dwarsdeur my, U ken my (v 1).
Nou is daar geen wegkruipplek meer nie,
Here; die dae het uitgeloop
en die jaar het vol geword
en ek staan oop en bloot voor U. Kaal.
En U weet alles, want U sien van altyd af deur my.
U ken my sit en my opstaan; my kom en gaan
is op dieselfde snuifgetrapte paadjie waarop
U my al so dikwels moes te hulp snel.
My woorde is so voorspelbaar soos gister se nuus.
My denke so plaaslik soos my eie klein behoeftes.
Daarom maak ek my nie moeg met allerlei planne
om van U af te probeer wegkom nie, Here.
Ek sal in elk geval nie weet watter kant toe nie.
Ek kán nie meer boontoe nie,
en nóg verder af is ook nie juis moontlik nie.
Weghardloop, soos wegkruip, is dus uit.
Buitendien is ek doodbang vir die donkerte.
Hier staan ek dan, Here.
Hopelik herinner u onbelemmerde uitsig op my
en u diepgrypende insig in my binneste U daaraan
dat ek oorspronklik u handewerk is. Dat ek vandag verniel
van binne en verflenterd van buite is, is nie u skuld nie.
Maar ek hoop, o ek hoop met my hele hart,
dat ek steeds u saak is. Dat ek steeds ’n tydjie
in u gedagtes het; dat ek my dae voor u aangesig
mag deurbring; dat U my steeds van kop tot tone
sal ondersoek en gereeld kyk of ek nog die vermoë het
om koers te hou op die pad wat U vir my geskraap het.
Neem my dan, u eiendom, aan my skouers
en draai my om sodat ek die beproefde pad
in die oog kan kry. Sodat ek hierdie nuwe jaar
wat agter die eerste bult wag, met vertroue
tegemoet kan gaan. Aan u hand, soos ’n kind.
Amen.
Barend Vos