Lees weer Psalm 143:5-8.
Laat my elke môre u liefde ondervind, want in U stel ek my vertroue. Wys my die pad wat ek moet loop, want my hoop is op U gevestig (v 8).
Haai, Here, ’n mens se lewe is darem maar kort!
Ons dae vlieg behoorlik verby, soos ’n gedagte.
En as dit boonop ’n ou kléin gedagtetjie is, soos myne,
dan ís die lewe maar ’n asem lank: in, en gou weer uit …
Nou wil ek my nie verknies oor die toekoms
en hoe kort dít gaan wees nie;
ek dink liewer terug aan die gisters en eergisters.
Toe die lewe eenvoudiger was
en geloof makliker. Toe groot ingrepe
sonder twyfel die werk van u hande
was en niks aan die toeval toegeskryf is nie.
Toe u alomteenwoordige heerskappy
’n wetenskaplike feit was wat boonop
deur teoloë en hul teksverse gesteun is.
En u voorkennis die rede vir elke tragedie.
Vanselfsprekend was u destydse wil
volledig in ooreenstemming met óns begeerte –
en as God vír ons is, wie kan dan teen ons wees!
Nou het dinge anders geword, kla ons.
Gaandeweg het God se beeld vervaag
en sy kragtige greep op sake verslap.
“Vandag maak almal net wat hulle wil.
Sonder vrees. Sonder straf.” Sê ons.
Soos mense wie se visie versluier geraak het
deur kommer en die aandrang van eiebelang.
Daarom moet U ons help om in die jaar wat kom
tog so min moontlik skade aan u koninkryk te doen.
Dat die kroon op u hoof onaangetas sal bly,
ten spyte van die kordate kartonkrone wat so
prekêr pronk op die kop van papiertiere soos ons.
Leer my nogeens om verder te sien
as wat my begeertes lank is. En hoër
te mik as die kerk se toring. Rondom
my te kyk, na my naaste. En óp, na U.
Amen.
Barend Vos