Lees Spreuke 1:1-7.
Kennis begin met die dien van die Here (v 7).
“Dié spreuke is bedoel om mense wysheid te leer … sodat hulle sal weet wanneer iemand verstandig praat.” Só begin hierdie interessante, veelgelese en dikwels aangehaalde boek met versamelde wyshede. En as ons dié spreukeversamelaar se uitgesproke doel ter harte neem, lees ons die ganse bundel in een sitting deur!
Want die Here weet hoe nodig ons wysheid het, veral ook om te kan onderskei tussen die baie woorde wat hierdie jaar op ons afgevuur gaan word: die vernames se vername uitsprake en algemene praatjies-vir-die-vaak; die aartspessimiste se terneerdrukkende voorspellings en die ewige optimiste se onrealistiese vooruitskouings; die skeptiese mense se maklike wantroue en die siniese mense se ek-het-julle-mos-gesê. Om nie te praat van die slimjanne se irriterende beterweterigheid nie.
Ja-nee, as Spreuke ons sal leer wie se woorde ons ernstig moet opneem, wie ons moet glo, wie ons kan ignoreer en wie ons moet jammer kry omdat hulle mislei is en daarom ook ander mislei, dán sal ons vinnig en deeglik lees. Dan sal ons onderstreep, notas maak. Ons sal uittreksels daarvan neerskryf en in ons beursie bêre en teen die yskas plak.
Maar, blyk dit, ons moet ’n bietjie wag met die lesery. Ons moet eers ’n bril opsit, die regte bril. Want, sê hierdie spreukeversamelaar, kennis begin met die dien van die Here. Voordat ons dus begin lees, moet ons eers kniel. Voordat ons ons laat leer, moet ons eers vra: Wat wil U my wysmaak?
Want sien, ons leer mos alte graag wat ons wíl leer. Ons laat ons oortuig as ons oortuig wil word. Ons glo tog so vas in ons eie slimmigheid.
Verlos my, Here, van my onwankelbare geloof in myself. Maak my vry om U te dien.
Barend Vos