Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

In u Naam

Lees Psalm 72.

Leer tog die koning, o God, om te regeer volgens u wil, leer die koning om die reg te handhaaf soos U dit wil (v 1).

Hier is dit nou, en sekerlik onvermydelik aan die begin van ’n nuwe jaar: die gebed vir die koning. Die gelowige wat in hierdie dae die regeerders aan die Here opdra. Vir die owerheid bid ter wille van ’n rustige en stil lewe (1 Tim 2:1-5).

Maar ons doen dit nie. Ons gil liewer op hulle – bitterbek, woedend. Vloek gans te gereeld wanneer ons aan “hulle” dink.

Ons gebruik al jare lank skelname wanneer ons oor hulle praat. Meestal suutjies, darem. Behalwe wanneer ons tussen mense is wat net so luidrugtig soos ons kla en net so uitgesproke oor “hulle”, die regeerders, te kere gaan.

Maar vir hulle bíd? Nie sommer nie.

Dit maak Psalm 72 ’n lastigheid. En 1 Timoteus 2:1-5 nogal ’n verleentheid. (By Romeine 13:1-7 blaai ons beslis haastig verby …) Maar selfs ’n vinnige lees van dié psalm wys duidelik die eerste beginsel van elke gebed uit: Dit is ’n versugting tot God, tot niemand anders nie. Kyk dan hoe wemel dit van “laat hy …; leer hom …; mag hy …”

Sien, die bidder praat nie met die koning nie, maar met die Koning van die konings. Hier tree die bidder nie net vir die regeerders in nie, maar juis ook vir die onderdane. Vir die verdruktes, die armes, vir reg en geregtigheid.

Vir ’n rustige en stil lewe onder die regering van iemand wat dalk nie die naam koning werd is nie. Maar vir wie daar tog gebid moet word, in die verhewe Naam van die enigste Een wat magtige dade doen (v 18-19).

Vergewe my dié teësinnige gebed, Here. Leer my, en die koning, lewe soos U dit wil hê.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.