Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Skyn!

Lees Jesaja 60:1-6.

Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig! Vir jou het die lig gekom, die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring (v 1).

Dit is nie ’n onbekende beeld vir gelowiges nie, dié van die lig wat hulle ontvang het en waarmee hulle nou hul wêreld moet verlig. Jesus gebruik dit ook in sy groot preek op die berg waar Hy aan sy volgelinge sê hulle is die lig vir die wêreld (Matt 5:14-16).

Paulus sluit later hierby aan en sê mense wat deur God verander is, moet lewe as “mense van die lig” (Ef 5:8).

Veel later sou kinders ’n Hallelujaliedjie leer wat hulle aanspoor om te skyn, selfs al is dit maar effentjies. So skraps soos “jy in jou klein hoekie, en ek in myn’”.

Aan Jerusalem word belowe dat die donker dae verby is. Dat die Here se teenwoordigheid die duisternis verdryf het en ’n nuwe dag gekom het. En, soos motte na ’n kers, word almal nou na dié lig gelok: nasies en konings, seuns en dogters, rykdom en roem.

So gee die Here alles wat nodig is aan hierdie eens verwoeste stad. En al wat gevra word, is: Laat skyn nou die lig wat jy ontvang het! Leef uit wat die Here jou gegee het. Wéés wat jy deur sy genade geword het. En kyk dan wat gebeur …

Jesaja 60 bruis van belofte, van troos. Gelowiges kan dit gerus oorweeg om dit meer dikwels te lees en só te leer van die Here van alle tye. Sodat hulle in tye soos dié weer bewus kan word van Hom wat lig gee, wat Lig is. Die Een wat ’n skynbaar nimmereindigende donkerte verjaag.

Hy wat alles gegee het sodat sy kinders in die lig van sy gawes kan leef.

U is my Lig. Laat my tog skyn, skyn, skyn!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.