Lees Efesiërs 4:17–5:1.
Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het (v 22).
Dit is die kern van Paulus se pleidooi aan die gemeentemense in Efese: Julle is nou anders, omdat Christus julle anders gemaak het. Gaan lewe dus nou ánders. Anders as vroeër, anders as die heidene. Dit is nie maklik nie. Andersheid is om vreemd te wees. Andersheid laat jou uitstaan, dit maak jou sigbaar. Nou sien mense jou raak, en hulle hou nie noodwendig van wat hulle sien nie. Want andersheid ontlok agterdog, selfs argwaan. Dalk ook jaloesie: Wie dink hy is hý? Dink sy dat sy beter is as ons?
Die hartseer is dat laasgenoemde beskuldigings dikwels meer as ’n greintjie waarheid bevat. Mense wat in gehoorsaamheid anders begin lewe, is soms alte bewus van hierdie andersheid. En straks eerder trots daarop as dankbaar daarvoor. Dan bekyk hulle hul medemens deur ’n nuwe bril, eensklaps vol afkeuring. Leer hulle teregwysende taal aan. Help hulle graag ander mense reg en sê: Nie dat ons hulle veroordeel nie, maar …
En so verloën gelowiges wat opgeroep word om anders te lewe die eerste beginsel van hul andersheid: Dit is Christus wat hulle anders gemaak het. Hul andersheid is nie ’n uitvloeisel van hul eie goeie keuses nie; dit is die genadige gevolg van God se harde werk in hul lewe.
Daarom beklemtoon Paulus hier nederige solidariteit: “Ons is lede van dieselfde liggaam” (v 25); “wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar” (v 32). Sien, mense wat nou anders is, onthou hoe hulle vroeër was. En hoe onmoontlik dit is om sélf anders te word.
Hulle weet maar te goed wat dit hul Verlosser gekos het. En wat sy houding is teenoor diegene wat steeds vasgevang in eendersheid lewe.
Herinner my gereeld, Here, aan waar ek vandaan kom. Wat ek nou is, is net genade.
Barend Vos