Boodskap vir Vandag

Search

Die Here se stem

Lees Psalm 29.

Die stem van die Here weerklink … (v 3).

Die ander gode raas en blaas, maar wanneer die magtige stem van die Here weerklink, gebeur dinge. En dit gebeur gróót! Die see en die berge en die hemelruim getuig hiervan. Vir almal om te sien en te hoor en hulle te verwonder.

Die Here se kinders ken Hom so. Hulle weet hoe Hy klink. Daarom sal hulle mekaar op berge en in dale en oral troos en sê: Sien jy daar? Hoor julle dit? Wees bly. Want dit is die Here wat daar praat. Hierdie uitbundige psalm laat die gelowiges hul ore spits en oë fokus. Om beter te kan hoor hoe die Here klink, om beter te kan sien hoe Hy werk. Sodat hulle te midde van hierdie wêreld se gedruis hul Here se stem van die res kan onderskei.

Dit is goed so. Want deur die eeue het dit dikwels, selfs vir die Here se mees oplettende kinders, geklink asof Hy begin swyg. Hulle sal soms selfs vra: Hoekom bly U dan stil? Het U bes gegee met u wêreld? Tree U terug? Wat gaan dan van ons word, u kinders wat so deur die ander stemme oorweldig word? Ons wat dikwels daardeur aangelok, selfs meegesleur word?

Daarom is hierdie pêrel van ’n psalm ’n glinsterende herinnering aan die Stem wat bo alle stemme uitstyg. Wat verder as elke ander plaaslike geraas reik. Sodat al sy kinders, waar hulle ook al is, Hom kan hoor.

Nee, dit is selde ’n buldering en nooit ’n geskreeu nie. Dit is wel die onmiskenbare, vaste stem van Hom wat destyds al geselsende geskep het. En van altyd af ook só sy kosbare skepping onderhou en sy geliefde skepsels troos.

Ek hoor U, Here! Die klank van u stem maak my bly.

Barend Vos

Koop ’n Koffie

Ondersteun Christelike inisiatiewe teen die prys van ’n koppie koffie

Maak ’n Dankoffer

Deel jou dankbaarheid deur ’n dankoffer

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap elke dag

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms

Bybels vir Almal

Help om God se Woord in elke huis te bring

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.