Lees Prediker 2:1-11.
Van lag moes ek sê: dis sinloos, en van plesier: wat bring dit? (v 2).
Die ou pessimis. Hy kom al van hoofstuk 1 af met hierdie gesug: Alles kom tot niks, niks kan verander nie, alles is ’n gejaag na wind. “God het ’n harde taak aan die mens gegee” (Pred 1:13)
Nou beproef hy plesier – en dit is niks lekker nie. Hy wonder wat sal gebeur as hy begin wyn drink … Verder noem hy op: die groot ondernemings wat hy aangepak het; die tuine wat hy aangelê het; die slawe wat hy versamel het; die rykdom wat hy vergader het; die musiekmakers, die mooi meisies. Hy sê: “Ek het my geen plesier ontsê nie” (v 10).
Maar ook dít – silwer en goud, en “wine, women and song” – het hom op die lange duur nie bevredig nie. Trouens: “In hierdie wêreld bevredig niks nie” (v 11).
Wat wíl jy dan hê? sal ons hom vra. Ons, wat net kan begeer om bloot ’n fraksie van hierdie welvaart te beleef. Maar Bybellesers sal weet dat daar nooit ’n antwoord kom nie. Die skrywer sal in hierdie trant voortwoed, skoorvoetend toegee dat daar darem vrede en selfs vrolikheid te vinde is. Soms.
Op dié manier, kla-kla, kopskuddend en meewarig, onoortuigbaar en by voorbaat skepties en dikwels so bitter soos gal, herinner hy ons aan onsself. Aan die manier waarop ons, witbrood onder die arm, die wêreld met ’n frons betrag, en sug. En mor. En nóg wil hê. En die hele tyd vol wrewel rondloop omdat die meetsnoere vir ons nie op ander plekke geval het nie.
So hou hierdie ou suurpruim vir ons ’n spieël op. En die gesig wat na ons toe terugkyk, is helaas nie mooi nie.
Goeie Gewer, hou my dankbaar vir alles wat U my so ruimskoots gee, so oorvloedig.
Barend Vos