Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Reisende prediker

Lees Lukas 4:14-21.

Hy het die mense in die sinagoges geleer, en almal het met lof van Hom gepraat (v 15).

Rondreisende predikers se naam loop hulle vooruit. Oral waar hulle aandoen en preek, word daar groot verwagtings gekoester. Die toehoorders hang aan hul lippe, drink die bruisende woorde in. En ná hul vertrek word daar met lof oor die afgelope geseënde tyd gepraat. Destyds het ’n Nasaretseun in Galilea rondgegaan en gepreek.

Almal was opgewonde, en verwonderd, toe hy in die plaaslike sinagoge aan die woord kom. Hulle het mekaar gevra: “Is hy dan nie die seun van Josef nie?” (Luk 4:22).

Hy is, Hy is. Hy is egter ook meer. Het hulle dit dan nie gehoor nie? Hy sê dit self nadat hy uit die Jesajaboek voorgelees het, die boek toemaak en begin preek en sê: “Vandag is hierdie Skrifwoord … vervul” (v 21).

Ag, dalk het hulle dit gehoor. En dalk was dit die vernaamste rede waarom hulle baie gou van hom ontslae wou raak (Luk 4:28-30). Hy het mos sy mandaat as besoekende prediker oorskry: Moenie aanvegbare stellings maak nie. Moenie uitdaag nie. Moet veral nie kritiseer nie. Praat nét “aangename woorde” (Luk 4:22).

Dit sou helaas nooit gebeur nie, nie waar dié prediker sou optree nie. Toe sy volgelinge boonop begin om na hom in hoofletters te verwys, soos na ’n god, was die kerkmense éérs kwaad.

Jammer vir julle, kan ons vandag sê. Die Gees van die Here is op Hom. Hy is die Gesalfde wat na die armes, die gevangenes, die blindes en die onderdruktes gestuur is. Niemand sal Hom keer nie. Hy is die Aanbringer van die genadejaar. Hy is hier om te bly.

U genade is ook vir my genoeg, my hoofletter-Here!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.